Aksies en geleenthede wat reeds plaasgevind het, sluit die volgende in:

’n borsbeeld van prof. P.J. Nienaber, grondlegger en eerste direkteur van NALN, staan van die begin van die feesjaar af op die sentrale plek voor die Museum se hoofingang;

’n wenslikheid- en haalbaarheidstudie rakende die vestiging van ’n Sesotho Letterkundige Museum in die Vrystaat, is van stapel gestuur;

’n feesembleem is ontwerp en word vanjaar op alle skryfbehoeftes, uitnodigingskaartjies, programme, ens. afgedruk;

tien vlagpale - naas die sentrale paal met die landsvlag - is voor die Museum opgerig, om vanjaar vlae met die NALN 25-feesembleem te vertoon;

’n personeelreünie is op 21 Maart gehou, waartydens verteenwoordigers van die huidige en oud-personeel die feesvlae die eerste keer gehys het;

’n teetuin is op Sondag 22 Maart in die Beeldetuin voor die Museum aangebied, met optrede deur die Tabure-jeugorkes (die lede kom uit histories agtergelate gemeenskappe). ;

die Saamdinkberaad NALN 2000, ’n ope gemeenskapsforum, is op 23 en 24 Maart gehou om insette te verkry met die oog op die Museum se transformasieproses; en

die amptelike NALN 25-feesprogram en -feesdinee het op 24 Maart plaasgevind, waartydens onder meer prof. Elize Botha as gasspreker opgetree en Antoinette Pienaar ’n spesiale geleentheidskabaret aangebied en haar optekeninge van mondelinge Karoo-stories vir bewaring aan NALN geskenk het.

Verdere projekte wat vir die res van die feesjaar in die vooruitsig gestel word, sluit in:

’n Literêre toer deur Bloemfontein is op Internasionale Museumdag (18 Mei) geloods;

die loodsing en bekendstelling tydens Nasionale Biblioteekweek van NALN se Sentrale databasis van leeskringaktiwiteite en -hulpbronne (Leeskringhulp);

’n spesiale feesjaarbydrae tot NALN en die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se gevestigde gesamentlike jaarlikse skryfwedstryd- en slypskoolprojekte

'n Vrouedagprogram, op 10 Augustus 1998, bestaande uit 'n lesing deur Otto Liebenberg oor dr. Elizabeth Conradie (1903-1939) op haar 95ste geboortedagherdenking;

'n Literêre toer deur Bloemfontein, met tema vroueskrywers en -karakters, asook taalwerkers uit die verlede en hede met Bloemfonteinse bande;

Aktuele lesing op Vrydag 21 Augustus 1998 deur die skrywer en filmmaker Jan Scholtz, by geleentheid van die prysaand en formele afsluiting van die BSV-skryfwedstryd Skrywers '98;

’n publikasie oor NALN se eerste 25 jaar, wat ook geredigeerde uittreksels uit prof. Nienaber se beskrywing van NALN se ontstaansgeskiedenis sal bevat; en

die instel van ’n P.J. Nienaber-gedenklesing;

Konsultasie met die te stigte Suid-Sotho Kultuurvereniging (Mokgahla wa Thesele) tydens die stigtingskongres die naweek van 14 November 1998;

die huldiging van die pionier- Swart Afrikaanse skrywer Arthur Fula (o.m. met ’n gedenkuitstalling en die onthulling van ’n borsbeeld in die Beeldetuin).

 

Terug na NALN 25

Terug na Tuisblad