ANDER LETTERKUNDIGE MUSEUMS

*    Die konsep van ’n volwaardige letterkundige museum is in Suid-Afrika eers bekend gestel toe NALN in   1973 tot stand gekom het. Vandag vorm NALN, naas talle ander instellings wat ook materiaal van (Afrikaanse) literêre aard hanteer, die sentrale en nasionale skatkamer van die Afrikaanse letterkunde, skrywer en boek. Dié aanspraak word gegrond op NALN se inklusiewe aard en holistiese benadering, sowel sinchronies as diachronies gesproke; die feit dat NALN verreweg die grootste en omvangrykste versamelings - insluitende talle kategorië van nie-papiermateriaal - huisves, met ’n vaste deurlopende toevloei; die winste van die kontekstuele samehang en interaksie van al hierdie versamelde materiaal; die feit dat etlike honderde individuele skrywers en tientalle uitgewers en uitgewershuise gedokumenteer en gereflekteer word; en die feit dat dit alles binne ’n multidissiplinêre en komprehensiewe museummodel gedoen word.

* Daar word uitgesien na die dag wanneer NALN een van ’n “familie” van letterkundige museums in Suid(er)-Afrika kan wees om gesamentlik en afsonderlik die letterkundes van al die onderskeie tale waaruit die gesamentlike en gemeenskaplike Suid-Afrikaanse letterkunde saamgestel is, te bedien. So ’n gedesentraliseerde konstellasie van (taal-) en letterkundige museums sal ’n onbestwisbare nasionale bate vorm, en sal selfs in wêreldkonteks ’n unieke konsep wees.

* Daar word ook uitgesien na groeiende interaksie met letterkundige museums en verwante instellings in die res van die wêreld, veral ten opsigte van die literature waarmee die Afrikaanse taal en letterkunde raakpunte het, bv. in Nederland en België.

* In Den Haag, Nederland, bestaan die Nederlands Letterkundig Museum en in Leeuwarden, .in die Nederlandse provinsie Friesland, die Frysk Letterkundich Museum en Dokumintaesjesintrum, terwyl elemente van ’n letterkundige museum ook sterk figureer in die Archief en Museum voor het Vlaamse Cultuurleven in Antwerpen, België. (kyk onder meer: http://www.corpus.nl/schrijversnet/expo.htm)

* In Suid-Afrika bestaan die National English Literary Museum (NELM) in Grahamstad, Provinsie Oos-Kaapland, met die Suid-Afrikaanse Engelse literatuur as temaveld. In die Vrystaat word daar tans ondersoeke geloods om ’n Suid-Sotho Letterkundige Museum in Phuthaditjhaba (Witsieshoek) te ontwikkel, terwyl daar by verskeie sentra reeds versamelings literêre materiaal ten opsigte van sommige van die ander inheemse tale in bewaring is, bv. by Fort Hare (Xhosa-letterkunde) en Ulundi (Zoeloe-letterkunde), ens.

* Dwarsoor die wêreld bestaan daar natuurlik museums, dikwels in die vorm van huismuseums waar hulle gewoon/gewerk het, vir bepaalde individuele skrywers, bv. die Vondelmuseum, die Bilderdijkmuseum en die Multatulimuseum in Amsterdam, die Louis Couperusmuseum in Den Haag, die Guido Gezellemuseum in Brugge, die Maerlantmuseum in Damme, ens. In Suid-Afrika is veral die Langenhovenmuseum in C.J. Langenhoven se woonhuis “Arbeidsgenot” in Oudtshoorn ’n baie bekende huismuseum vir ’n Afrikaanse skrywer. Ander Afrikaanse skrywers se lewe en werk word toegelig in onder meer die Louwhuis in Sutherland, die Boekehuis en Calvinia, en die A.G. Visserhuis in Heidelberg. (’n Meer volledige lys van skrywersmuseums kan later bygewerk word.)

* Baie biblioteke en argiewe besit versamelings wat met ’n bepaalde of groepe skrywers in verband staan, waardeur hulle sterk aansluiting by die skrywers-/letterkundige museum-konsep vind - en sommige van dié instellings bied selfs op ’n geleentheids- óf permanente basis uitstallings aan, wat hulle nóg nader aan die museumkarakter bring, afgesien van die soortbenaming wat dit dra (vgl. die Goethe-und-Schiller-Archiv in Duitsland). Wat die Afrikaanse letterkunde betref, besit instellings soos die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad en die Universiteitsbiblioteek van Stellenbosch (en verskeie ander) beduidende en/of belangrike versamelings van merendeels manuskrip- en dokumentasiemateriaal van skrywers. Die Staatsargiefbewaarplek in Pretoria besit eweneens ’n belangrike versameling materiaal wat deel gevorm het van die destydse Sentrum vir Taal en Letterkunde (en latere vervangende strukture soos Saski) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

* CSSALL (Centre for the Study of Southern African Literature and Languages) aan die Universiteit van Durban-Westville is nie soseer op die primeêre versameling en bewaring van materiaal ingestel nie, maar bevorder ’n interdissiplinêre benadering tot Suid-Afrikaanse letterkunde en tale, en koördineer navorsingsprojekte soos die Southern African literature database en die South African Literary Encyclopaedia CD-ROM. (kyk: http://www.udw.ac.za:80/~stewartg/)

 

Terug na Tuisblad